Koorleier

Dr Louis van der Watt, voormalige Senior Lektor in Strykinstrumente en voormalige dirigent van die Simfonieorkes (sedert 2000) aan die Universiteit van Stellenbosch, het aan die einde van 2022 na Bloemfontein verhuis en is vanaf Januarie 2023 die nuwe koorleier/dirigent van cantando@bloemgemeenskapskoor.

Na sy vroeë vioolonderrig onder Jack de Wet, word hy 'n lid van die Vrystaatse Simfonieorkes, speel in die Stellenbosse Strykorkes en is Konsertmeester van die US Simfonieorkes. Hy tree verskeie kere as solis op met hierdie orkeste. Hy was oor 'n periode van 13 jaar 'n lid van die SA Nasionale Jeugorkes en 'n voltydse lid van die destydse KRUIK- Orkes, ekstra speler in die Kaapstadse en NARUK Simfonieorkeste, en Konsertmeester van die Cape Town Chamber Orchestra. Hy is ook 'n voormalige instrumentalis in die Camerata Tinta Barocca/Cape Town Baroque Ensemble.

Hy is 'n oud-lid van die Vrystaatse en Stellenbosse Universiteitskore asook die Libertaskoor. Hy is 'n voormalige dirigent van die Stadskoor Tygerberg en het opgetree as aflosdirigent van Schola Cantorum, die akademiese koor van die Universiteit Stellenbosch. Hy tree ook op as gasdirigent, soos met die Kaapse Filharmoniese Orkes met wie die koor Handel se Dixit Dominus en Dettingen Te Deum uitgevoer het, asook in uitvoerings van Peter Louis van Dijk se Youth Requiem en San Gloria. In 2017 het hy die cantando@bloem-koor dirigeer in 'n uitvoering van die Mozart Requiem tydens diejaarlikse Kunstefees.

Dr van der Watt was 23 jaar lank dirigent van die Canticum Novum-koor, Stellenbosch. Benewens a capella-werke vanaf die 16de tot die 2lste eeu, het die koor onder sy leiding meer as 20 verskillende werke vir koor en orkes opgevoer, onder andere die Bach Magnificat, Handel Messias, Dixit Dominus en Dettingen Te Deum, Mozart en Schubert Misse en die Rossini Stabat Mater. Na uitstaande uitvoerings van die Mozart Requiem in 2014, is die koor genooi om Mozart se Kroningsmis in Carnegie Hall, New York uit tevoer (12 April 2015).

Hy tree ook gereeld op as beoordelaar by plaaslike en nasionale koorkompetisiessoos ATKV Applous en Animando en tydens eisteddfods landswyd. Hy verwerf sy MMus in Kerkmusiek en Koorleiding cum laude, en ontvang sy PhD na 'n studiejaar in Leuven, Belgie in 2018.