Op 1 en 2 Junie 2024 het die cantando@Bloem gemeenskapkoor (o.l.v. dr Louis van der Watt) en die Rhapsody Orkes (o.l.v. Heinrich Lategan) kragte saamgesnoer tydens die aanbieding van 'Romance and Royals' in die Odeion. Bloemfontein se musiekliefhebbers het in groot getalle gaan luister.
Die uitvoering van twee van Händel se gewyde werke, naamlik Dettingen Anthem en Zadok the Priest, het onder die bekwame leiding van die gasdirigent, Lance Phillips, plaasgevind. Die werke is deur die dirigent self as elegant, grasieus, passievol en vol koninklike waardigheid beskryf. Laasgenoemde redelik onbekende werk is meer onlangs in 2023 uitgevoer as die gewyde lofsang tydens Koning Charles lll van Engeland se kroningsplegtigheid, maar is tradisioneel ook uitgevoer by die kroning van elke koninklike monarg sedert 1727.
Die cantando@Bloem koor, bestaande uit 45 lede, het met die aanvang van ons oefeninge in Januarie in die diepkant ingespring en met mening die instudering van die onbekende musiek aangepak. Soms was ons moedeloos omdat die inoefening van die musiek aanvanklik 'n groter uitdaging was as wat ons verwag het. Ons koorleier het egter altyd die groter prentjie aan ons voorgehou en met sy volgehoue strewe na musikale perfeksie, ons voortdurend motiveer en aangemoedig. Met die uitvoering van die werke, en 'n baie groter begrip van die emosionele impak daarvan, het die musikale grootsheid uiteindelik vir ons saam met die orkesbegeleiding ontvou en het die koorlede met al groter vrymoedigheid en oorgawe hul kant gebring.
Die eindresultaat op die verhoog was emosioneel omdat die aanvanklik 'onsingbare' musiek 'n skoonheid van sy eie aangeneem het en weet ons nou dat volgehoue dissipline, 'n liefde vir koorsang, 'n spontane spanpoging en ook buitengewoon bekwame koorleiding, 'n wenresep is. Die koorervaring neem individue saam op 'n skeppende reis waarvan die menslike psige nie bewus sou wees as dit nie vir hierdie oomblike van intense musikale kreatiwiteit was nie.
In Händel se eie woorde dat musiek 'n geskenk en genade van God is, stel hy homself ondergeskik aan sy Goddelike talent wat deur die eeue aan die mensdom oneindige verryking gebied het en in die ewigheid steeds sal weerklink.