In 2009 sien cantando@bloem die lig om volwasse koorsangers van Bloemfontein ʼn geleentheid te gun om uiting aan hul liefde vir koorsang en musiek te gee. cantando@bloem is ʼn gemeenskapskoor met ʼn eklektiese repertorium wat beide gewyde en sekulêre werke insluit. Die koor spog ook met etniese werke wat baie gewild is.

Groter werke uit die standaard koorrepertorium sluit in:

  • Haydn se Nelsonmis;
  • Beethoven se negende simfonie;
  • Die popkantate, Holy Moses;
  • Carl Orff se Carmina Burana;
  • Mozart se Missa et in honorem sanctissimae trinitatis;
  • Uittreksels uit die Messias van Handel;
  • Die Mozart Requiem; en
  • Die Fauré Requiem.

Die koor staan onder leiding van Werner Stander en die begeleiding word deur Maretha Steyn behartig.  Werner het in 2015 sy Meestersgraad in koorleiding aan die Universiteit van die Vrystaat onder die leiding van Lance Phillip verwerf. Werner sal in Junie 2019 Meestersklasse by prof. Simon Halsey aan die Universiteit van Birmingham ontvang. Halsey is die dirigent van die London Simfoniekoor, asook die Birmingham Simfoniekoor en was vir 15 jaar betrokke by die Berlynse Rundfunkchor (radiokoor).  Prof. Halsey was ook al betrokke by baie produksies en opnames in samewerking met Simon Rattle en die Weense Philharmoniese Orkes.  Dié produksies sluit Beethoven se negende simfonie in. Halsey spog ook met ʼn Grammy-toekenning vir die beste kooruitvoering en opname van Brahms se Ein Duitches Requiem.

In 2015 het cantando@bloem na Italië en Oostenryk getoer om onder andere aan die agtiende Alta Pusteria-koorfees in die Suid-Tiroolgebied van Italië deel te neem.  cantando@bloem was een van 73 kore van regoor die wêreld wat aan die 2015-koorfees deelgeneem het. Benewens die internasionale konserttoer het die koor ook al konserttoere onderneem na:

  • Oos-Kaap;
  • Suid-Kaap;
  • Gauteng;
  • Namibië;
  • Oos-Vrystaat;
  • Suid-Vrystaat; en
  • Noord-Kaap.

Die koor het oor die jare verskeie suksesvolle optredes gelewer, maar ʼn groot eer het die koor te beurt geval toe hul ʼn toekenning ontvang het vir hul deelname aan die Mozart Requiem (o.l.v. Louis van der Watt), wat as die beste debuut musiekproduksie van die 2017-Vrystaat Kunstefees aangewys is.  Benewens die koor se uiters geslaagde optredes in Bloemfontein en omgewing, was een van die 2018-hoogtepunte die koor se bywoning van en optrede by die tiende Wêreldkoorspele in Pretoria.  Dit was vir die koor ʼn groot voorreg dat wêreldbekende dirigente, soos Jürgen Budday (Duitsland), Inessa Bodyako (Belarus) en Hannelize du Plessis (Suid-Afrika), met hul kon werk tydens die spele.   

Die koor sien reeds baie uit na wat die 2019-koorjaar inhou. Die 2019-herfskonsert wat in die Anglikaanse Katedraal uitgevoer is, is geweldig goed ontvang. Twee ander hoogtepunte is cantando@bloem se jaarkonsert en 10 jaar-vieringe wat in September in die Odeion plaasvind. Die koor se stigtersdirigent, Bouwer van Rooyen, sal ook werke tydens hierdie konsert dirigeer. Die jaar word afgesluit met ʼn uitvoering van Brahms se Ein Deutsches Requiem in samewerking met die FSSO o.l.v. Alexander Fokkens. Dit is voorwaar ʼn jaar vol hoogtepunte.